Vaughan Gardiner

Main : 

BIOGRAPHIE

Ek is Vaughan Gardiner. Alhoewel ek gebore is in Sandton, Johannesburg (14 April 1987), het ek groot geword in die Kaap. Tans bly ek in Centurion. Ek’s die oudste van twee kinders. My jonger broer, Selwyn, is tans in Graad 12 in Hoërskool Stellenberg. Hy woon by my ouers – my ma Ophelia en my pa Vivian – in Brackenfell in die Kaap. My laerskool loopbaan het begin in die Laerskool Gene Louw en ek het gematrikuleer aan die Curro Privaat skool (albei in Durbanville). Daarna het ek BRek studeer aan die Universiteit Stellenbosch en in 2008 my graad verwerf. Alhoewel ek Honneurs keuring gekry het, het ek besluit dat musiek die rigting is wat ek voltyds wil volg. Maar, in die langtermyn beoog ek nog steeds om verder te studeer, want daar is altyd meer om te weet.

Op skool het ek ‘n hele aantal sporte beoefen, maar het tennis as my hoof sport gekies. Ek het aan die Boland Meesters Tennistoernooi deelgeneem en ook vir die Universiteit Stellenbosch gespeel. Op Universiteit het ek ook besluit om aan Skerm deel te neem en het sodoende, in 2006, na die Suid Afrikaanse kampioenskappe gegaan… (ek sal nie sê hoe ek gevaar het nie, want die ouens is nogal goed).

Wat sang aanbetref het ek al begin sing op die ouderdom van agt jaar – die eerste keer toe ek ‘n mikrofoon vasgehou het. Ek het toe aan sangkompetisies deelgeneem met die hoop om eendag ‘n sanger te word. In 1999 was ek Hong Kong toe saam met ‘n Kaapse Klopse groep om aan “Die Jaar van die Haas” deel te neem. In 2001 was ek Japan toe saam met ‘n groep met die naam “Earth Harmony” om te sing tydens die herdenking van die Hiroshima bom. Op die ouderdom van veertien het ek met klassieke sangopleiding by Koba Wicomb begin en het tot vandag toe nie opgehou met sangopleiding nie.

Op dertienjarige ouderdom het ek begin kitaar speel en ek kan tot vandag toe nie ‘n kitaar neersit nie – ek was gelukkig genoeg om al die kitare op my album te doen. Op sestien het ek myself leer klavier speel – dit is nou nog een van my gunsteling instrumente. Ook op sestien was ek bevoorreg genoeg om as jongste lid deel te wees van ‘n Griekse tragedie opvoering wat deur die Kunstekaap Teater in die Kaap behartig was (regisseur – Roy Sargeant). Die opvoerings het vir twee maande in die Kirstenbosch Tuine geduur.

2004 was die jaar wat my loopbaan bepaal het. Ek was betrokke by ‘n skoonheidskompetisie by my skool waar Sean Else die Seremoniemeester was. Ivan Zimmerman was ook by die geleentheid teenwoordig en hy het toe vir Sean gesê om na my te luister. Ek het vir Sean ‘n demo gestuur en kort daarna het hy en Johan Vorster vir my ‘n kontrak aangebied by Mozi Records. Ses jaar later en my debuut album “WIE EK IS” verskyn op die rakke (2009). In daardie ses jaar het ek kans gehad om as sanger, musikant, skrywer en vervaardiger te groei.

Nadat ek betrokke was by die vervaardiging van my eie album, het ek ook die kans gekry om op ander kunstenaars se albums te werk insluitende Izak Davel, Riaan Grobler, Lianie May en Bok van Blerk. In 2009 is ek genomineer vir ‘Beste Nuweling’ by Huisgenoot Tempo sowel as by die Vonk Toekennings. My eerste “single” – ‘Gooi jou arms om my’ is ook by Vonk genomineer vir ‘Beste Liedjie’. In 2009 is ek ook genomineer in die ‘Solo’ kategorie van die MK Awards 2010. Sovêr het ek ‘n kort maar ongelooflike pad in die musiekbedryf gestap. Ek het baie geleer en ondervinding opgedoen wat ek nooit sal vergeet nie. Baie dankie aan almal van julle wat dit alles vir my moontlik maak.

Profile: 
BESPREKINGS INFO: Manlike kunstenaar. Geskik vir enige verhoogproduksie, korporatiewe en ander funksie INHOUD: Oorspronklike volwasse kontemporêre musiek in Afrikaans TAAL: Afrikaans of Engels TYDSDUUR VAN OPTREDE: 60 - 90 min MEER OOR VAUGHAN GARDINER: Mozi Records het in net 'n paar jaar die Afrikaanse musiekwêreld op sy kop gekeer met twee van die suksesvolste debute ooit. Eers was daar Bok van Blerk wat met sy album De la Rey 'n ongelooflike 198 000 albums verkoop het. Toe kom Lianie May met treffers soos Jy Soen My Nie Meer Nie en Vergeet My Nie en verkoop 110 000 albums. Een ding is seker: Johan Vorster en Sean Else van Mozi Records het 'n gawe om talent raak te sien! En hier is hy: Vaughan Gardiner - Mozi Records se derde kunstenaar en een wat die belofte het om net so groot soos sy voorgangers te word. Vaughan is 21 jaar oud en woon in Brackenfell buite Kaapstad. Hy het verlede jaar die graad B.Rek. aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, maar sang was nog altyd deel van sy lewe. "Ek het as kind aan kunswedstryde deelgeneem en was seker so agt jaar oud toe ek die eerste keer 'n mikrofoon vasgehou het," sê hy. "Ek het nog altyd 'n passie vir sang gehad en geweet dit is wat ek graag wil doen." Hy was in 1999 lid van 'n Maleierkoor, Villagers, wat in Hong Kong vir die Jaar van die Haas-vieringe opgetree het. "Emo Adams se pa is die koorleier van die groep en hy het my hoor sing toe ek nege jaar oud was en gevra ek moet by die koor aansluit. Dit was 'n wonderlike ondervinding." In 2001 het hy ook saam met die groep Earth Harmony in Japan opgetree. Hy was veertien jaar oud toe hy by Koba Wicomb begin sangles neem het. "Sy is vandag nog my leermeester en sangles is nie iets waarmee ek ooit sal ophou nie. 'n Stem is 'n spier wat geoefen moet bly en omdat ek opgelei is om ligte klassieke musiek te sing, is dit vir my belangrik om hard te oefen om my stem sterk te hou." Die eerste optrede waarvoor hy betaal is, was toe hy tien was en by 'n kollege in die Kaap se skoonheidskompetisie opgetree het. "Ek is R200 betaal en het gedink dit is baie geld!" Sy pad het die eerste keer in 2004 met Sean Else gekruis. "Ek was by Curro Privaat skool in Durbanville en het deelgeneem aan die Mnr. Curro-kompetisie. Sean was die seremoniemeester en Ivan Zimmerman van Egoli was een van die gaste. Ivan het aan Sean genoem dat ek goed sing en Sean het gevra dat ek vir hom 'n demo stuur. Hy het laat weet hy en Johan wil beslis 'n album met my opneem, maar ons het gewag vir die regte tyd. Ek is bly ons het gewag - dit was alles die moeite werd. Ek kon ook my graad voltooi en my stem intussen verder ontwikkel." Vaughan is gekeur om vanjaar sy honneurs te doen, maar hy het besluit om eers 'n jaar op sy sang te fokus. "Ek hoop om eendag in belasting of bankwese te spesialiseer." Die album bevat slegs oorspronklike Afrikaanse liedjies. Van die liedjies is deur Johan geskryf, ander deur Vaughan en die res was 'n samewerking tussen die twee van hulle. "Ek hoop hierdie album skep 'n nuwe musiek neiging. Dit is 'n unieke klank en hoewel dit na pop/rock neig, is daar tog klassieke elemente in wat dit 'n uitsonderlike klank gee," s? Vaughan. "Ek is baie tevrede met die album. Dit is wie ek is. Ek was nou betrokke van begin tot einde en kon my eie stempel daarop afdruk." Die musiekregisseur van die album is Werner Beukes. Vaughan is nie net 'n talentvolle sanger nie, hy is ook 'n baie talentvolle kitaarspeler. "Ek het my eerste kitaar aan die einde van my graad sewe jaar gekry en my eerste elektriese kitaar 'n jaar later. Die elektriese kitaar het my nog altyd gefassineer en was, en is steeds, verstom wat mens daarmee kan vermag." Vaughan is verantwoordelik vir al die kitare op die album. Dit was vir hom 'n groot voorreg om saam met Johan te werk. "Om saam met een van die beste en suksesvolste liedjieskrywers in die land te werk, is 'n ongelooflike ervaring. Ek het so baie by hom geleer en hy het my baie selfvertroue gegee. Nadat ek saam met Johan gewerk het, weet ek nou wat my vermoëns is." Hy hoop mense luister na die album en kan hoor dat die album eie aan hom is. "Omdat ek so passie vir die musiek op die album het, hoop ek mense kan dit hoor en dit met my deel."
Profile Pic: 
Profile Banner: 
Album Thumb: 

User login