NUWE VRYSTELLING - KARLIEN VAN JAARSVELD - AS DIE GORDYN VAL

Kyk hier: 

Karlien van Jaarsveld – As die Gordyn Val

Daar is lank reeds groot opwinding oor Karlien van Jaarsveld se solo-debuut. En met goeie reg. Karlien is een van die opwindendste nuwe stemme in Afrikaanse musiek en met As die Gordyn Val wys sy waarom die wag die moeite werd was.

Die album bestaan uit vyftien snitte waarvan slegs twee nie spesiaal vir die album geskryf is nie. Dit is popmusiek op sy suiwerste met polsende klanke en sielvolle ballades en Karlien se sterk stem wat bydra tot die uitstekende eindproduk.

Die album skop af met Sweet Dreams wat `n besliste treffer gaan wees.

``Die koorgedeelte van Sweet Dreams is deur Johan Vorster en Vaughan Gardiner geskryf,“ vertel Karlien. ``Hulle het dit vir my gespeel en ek het een aand inspirasie gekry en die res van liedjie klaar geskryf. Ek het die volgende oggend dit vir hulle gespeel en die liedjie is toe so vir die album opgeneem.“

Van die ander op-en-wakker dansliedjies op die album is Lief Maar Nie Verlief, As die Gordyn Val en Ses Snare. Maar Karlien wys ook haar staal as balladesanger met liedjies soos Rooi Ligte en Sonder Jou.

``As die Gordyn Val beteken vir my baie,“ sê Karlien. ``Ek het baie emosioneel geword toe ek dit opgeneem het. Die liedjie, wat deur Johan geskryf is, vertel van ‘n man wie se persoonlikheid verander wanneer hy alleen by sy meisie is en dan nie meer die gawe ou is wat hy voor mense is nie. Ek dink dit is `n liedjie waarmee baie mense kan vereenselwig.“

Die twee bekende liedjies wat vir die album opgeneem is, is Leonard Cohen se Halleluja en Just Like Jesse James wat deur Cher bekend gemaak is.

``Die album sluit af met Halleluja omdat ek aan die einde van die album wil sê dat al die eer aan God kom. Ek is baie bevoorreg dat my pad met dié van Johan-hulle gekruis het en ek weet dat dit alles van die Here kom. Dit is my manier om dankie te sê.“

Verskeie van die liedjies kom uit Karlien se pen. ``Feëverhaal, Sonder Jou en Van Jaarsveldhartedief is van die liedjies wat ek geskryf het. Van Jaarsveldhartedief is geskryf vir Annatjie Rheeders, my broer Bobby se meisie en `n baie goeie vriendin van my, wat regtig al ons Van Jaarsvelds se harte gesteel het!“

Karlien se droom vir die album is dat die musiek mense aanraak. ``Enigiets wat Johan-hulle aanpak is `n sukses en ek hoop natuurlik dit gaan weer die geval wees.“

Daar het twee musiekregisseurs op die album gewerk. Juan ``Floors“ Oosthuizen was verantwoordelik vir die ballades en Robin Kielly was weer aan die stuur van die dansliedjies. ``Hulle is al twee meesters in wat hulle doen en ek is baie tevrede met die eindproduk,“ sê Karlien. Sean Else van Mozi Records was ook nou betrokke by die produksie van die album en sal die regisseur wees van die musiekvideo’s wat van liedjies op die album gemaak word.

Karlien glo die mark vir haar album is oud en jonk. ``Ouer mense sal dalk meer hou van liedjies soos Sonder Jou en Rooi Ligte en die jonger mense dalk meer hou van liedjies soos Sweet Dreams en Wil Jy Vry?, maar ek dink tog dit is ‘n album wat almal sal geniet.”

Die liedjies op die album is:
1 Sweet Dreams
2 Lief Maar Nie Verlief
3 As die Gordyn Val
4 Feëverhaal
5 Sonder Jou
6 Rooi Ligte
7 Niemand Kan Dit Doen
8 Wil Jy Vry?
9 Wie Hou Score?
10 Lief Vir Jou Geraak
11 Sê Wat Jy Wil Sê
12 VanJaarsveldhartedief
13 Ses Snare
14 Just Like Jesse James
15 Halleluja

User login