34 GRADE SUID

Main : 

‘STAAN VAS’ - 34 GRADE SUID
Vier jaar gelede het Sean Else die groep EDEN verlaat om te fokus op sy platemaatskapy, MOZI RECORDS, wat hy saam met sy vennoot Johan Vorster begin het. Baie Eden-aanhangers se harte was gebreek, maar met MOZI RECORDS het Sean supersterre soos Bok van Blerk en Lianie May gevestig en sy talent as skrywer gebruik om treffers soos DE LA REY (BOK VAN BLERK), ONS VIR JOU SUID AFRIKA (BOK VAN BLERK/ROBBIE WESSELS), DIE KAPLYN (BOK VAN BLERK), PA EN SEUN (STEVE HOFMEYR/BOK VAN BLERK), IS JY BANG (EDEN) en vele, vele meer te help skep. Bok en Lianie wen in 2009 en 2010 die gesogte Sama-toekenning vir die topverkopers in Suid-Afrika oor alle genres. Sean wen ook as regisseur verskeie toekennings vir die musiekvideo’s soos DE LA REY, JY SOEN MY NIE MEER NIE en TOE STOP MY HART onder andere.
Ampie du Preez is aan die ander kant besig om vinnig naam te maak as ‘n briljante en gesogte liedjieskrywer en almal staan tou om van sy talent gebruik te maak. Hy was verantwoordelik vir Elizma Theron se trefferliedjie “EK SOEK JOU” asook Arno Jordaan se liedjie “STUKKIE VAN JOU HART”. Hy was ook die mede-skrywer van die kletsprogram Glitterati se temalied en het pas ‘n CD vrygestel waar hy en die Suid-Afrikaanse krieketspeler A.B. de Villiers dertien van Ampie se eie liedjies sing. Ampie was ook mede-stigter van die groep ‘N MAN SOOS JAN, ‘n groep waarvan hy tot onlangs deel was.
Sean en Ampie het besluit om kragte saam te snoer en al hul musiekkennis in een groep saam te gooi - 34 GRADE SUID.
Sean en Ampie se liefde vir country-pop, in die styl van Keith Urban en ander groot name, het hulle onder meer bymekaar gebring. Hulle het saam begin skryf en dadelik ‘n nuwe styl ontwikkel wat uniek in die Afrikaanse musiek mark is. Die musiek is aards en melodies en Sean en Ampie se stemme betower met pragtige harmonie en tekstuur. Treffer-ballades soos SAL WAG VIR JOU, VAL SONDER JOU en AS JY MOET GAAN wys hulle besondere ervaring en kennis van dié genre musiek. Treffers soos PRETTY BABY, VLIEG OOR JOU BERGE en JY SAL DINK AAN MY kon netsowel uit die ateljees van Nashville gekom het. STAAN VAS herinner mense dat Sean vir die lirieke van liedjies soos DE LA REY en DIE KAPLYN verantwoordelik was. Dit vra vir liefde en hoop in ‘n land waar ons gereeld getoets word. Die enjins maak oop met die klank van kitare, banjo’s en dromme met groot partytjietreffers soos ALMAL HIER IS BLOND, AGTER HIERDIE SOEN en MELKTERT LIEFDE om maar net ‘n paar te noem.
Die groep musikante wat Sean en Ampie begelei is van die grootse name in ons land wat hulle eie bydrae in die ateljee gebring het om die klank van 34 GRADE SUID ongelooflik vars en uniek te maak. Wanneer 34 GRADE SUID begin toer, sal dit ook die groep wees wat saam met hulle sal optree.
STAAN VAS gaan 34 GRADE SUID se stempel hard in Afrikaanse musiek afdruk met die vars klanke wat deur ‘n ervare span musikante en liedjieskrywers geskep is.

Profile Pic: 
Profile Banner: 
Album Thumb: 

User login