Oor Mozi

Mozi Musiek is in 2005 deur Sean Else en Johan Vorster begin. Wat begin het as ‘n droom van twee liedjieskrywers, het ontwikkel in een van die suksesvolste platemaatskappy in die land. Die afgelope twee jaar is Mozi-kunstenaars as die topverkopers in die land aangewys by die Sama-toekennings – Lianie May in 2009 en Bok van Blerk in 2010.

In 2005 het Johan en Sean geld bymekaar geskraap en ‘n man wat in die konstruksiebedryf gewerk het in die ateljee gesit met ‘n paar liedjies wat hulle vir hom geskryf het. Dit het stadig gegaan, maar `n jaar later was die CD amper reg. Daar is egter op die nippertjie besluit om nog `n liedjie op te sit. Die liedjie was De la Rey en die konstruksiewerker se naam was Bok van Blerk.

In minder as agt maande ná die hervrystelling van De la Rey het die album meer as 180 000 eenhede verkoop. Bok van Blerk, Mozi Records en De la Rey was vir altyd deel van die Afrikaanse musiekgeskiedenis. Bok wen verskeie toekennings onder meer drie Tempo- en vyf Vonk-toekennings.

Selfs met die sukses, het mense begin wonder of Bok en Mozi net one hit wonders is. Hulle is verkeerd bewys met die vrystelling van Ons Vir Jou Suid-Afrika, ‘n kompilasie-album met rugbyliedjies wat in 2007 vrygestel is. Die titelsnit, geskryf deur Johan en Sean, was ‘n duet tussen Bok en Robbie Wessels. Die CD verkoop meer as 45 000 in die eerste week van vrystelling.

Bok se volgende vrystelling was Afrikanerhart wat in 2009 vrygestel is en vir verskeie treffers gesorg het. Die Kaplyn het gespreek tot almal wat die grensoorlog kan onthou, Tyd om Te Trek het `n baie aktuele kwessie aangespreek, maar Bok het ook sy ligter kant gewys met liedjies soos Jou Pa is Hier, Brandewyn Het Nie Brieke nie en Seilvisskoffel. Die album is as die topverkoper in Suid-Afrika oor alle genres by die Sama-toekennings in 2010 aangewys.

Mozi Records se tweede nuwe kunstenaar was `n blondekop van Oranjeville. Lianie May se debuut-CD, Vergeet My Nie, tref die musiekwêreld met `n slag en sorg vir treffers soos Soen My Nie Meer Nie, Pretoria en Vergeet My Nie. Sy wen verskeie toekennings onder meer as gunsteling nuweling én gunsteling popalbum by die Tempo-toekennings en `n MK-toekenning vir beste solo-video vir Jy Soen My Nie Meer Nie.

Ná die sukses van haar Kersalbum, is `n nuwe album, Boeremeisie, deur aanhangers met ope arms ontvang. Met trefferliedjies soos Honey, Honey, Skooljare en Toe Stop My Hart, haar duet met Jay (Eden), het gewys dat sy nog lank deel van die Afrikaanse musiekbedryf gaan wees.

Die derde kunstenaar in Mozi se stal, is Vaughan Gardiner. Sy album Wie Ek Is word in 2009 vrygestel en sorg vir die trefferliedjies Gooi Jou Arms Om My en Vir Altyd. Vaughan word as beste nuweling by die Tempo- en Vonk-toekennings benoem en die video van Gooi Jou Arms Om My wen in 2010 die MK-toekenning as beste solo-video.

Die blues-meester Gerald Clark se eerste Afrikaanse album, Sweepslag, het ook by Mozi Records verskyn en is eweneens vir die een prys na die ander benoem onder meer `n Sama-benoeming as beste Afrikaanse alternatiewe album. Die video vir Rietfontein se Leidam, `n beryming deur Gerald van `n gedig deur ID du Plessis, was baie gewild onder kykers en het `n Vonk-benoeming gekry as beste musiekvideo.

Mozi Records se volgende nuwe vrystelling is ‘n solo-album van Karlien van Jaarsveld. Daar word reeds van die album gepraat as ‘n album soos nog nooit tevore in Afrikaans nie. Dit word in Junie vrygestel.

User login